Menu Close

Lydenstyd

3 Maart 2019 tot 20 April 2019

Lydenstyd eindig op Stilsaterdag, die Saterdag voor Paassondag. Hierdie is ‘n tyd van hertoewyding aan die Here.

In die vroeë kerk was die Sondag voor Paassondag ‘n vasdag en ‘n dag vir boetedoening. Hiervan het die gebruik gekom om die veertig dae voor Paasfees as ‘n tyd van vas en boetedoening te gebruik. Op Sondae was die vas onderbreek om Jesus se opstanding te vier. Tradisioneel was hierdie ook die tyd waarin nuwe bekeerlinge voorberei was vir hulle toetrede tot die kerk.

Met die Hervorming het die fokus verskuif van boetedoening na God se genade en ‘n lewe van dankbaarheid wat daaruit voortvloei. In ons dankbaarheid kyk ons ook na ander wat in nood en lyding verkeer en raak ons betrokke by hulle om hulle nood te verlig. Die belangrikste simbool vir Lydenstyd is die kruis. Ander simbole wat gebruik kan word is spykers, ‘n doringkroon, ‘n sweep, ‘n pers kleed en ‘n groot wit kers met ‘n doringkroon daarom gedraai.

Op Palmsondag kan palmtakke ook die kerk ingedra word. ‘n Pad of ‘n oop Bybel kan gebruik word om die weg van waarheid en lewe voor te stel. Hierdie voorstellings kan mettertyd verander word na voorstellings van die Via Dolorosa, die lydensweg van Jesus in Jerusalem.

‘n Kandelaar met sewe kerse kan gebruik word om die sewe weke van Lydenstyd af te tel. Elke week word een kers doodgeblaas tot die laaste kers op die Donderdagaand voor Goeie Vrydag doodgeblaas word. Op Aswoensdag, in die kerke wat Aswoensdag vier, is die kleur grys om aan as te herinner, die Bybelse simbool van rou en berou. Vir ander kerke is die kleur pers tot met Heilige Week, die laaste week voor Paassondag. Op Palmsondag verander die kleur na donkerrooi en op Heilige Donderdag of Goeie Vrydag verander dit na swart. Op Paassondag verander die kleur na wit.

Eerste Sondag in Lydenstyd Lees gerus hierdie week: Matt 4:1-11; Genesis 2:1517; 3:1-7; Psalm 32; Romeine 5:1219 Die gedeelte in Matteus handel oor die versoeking wat Jesus in die woestyn weerstaan het. Dit staan in kontras met die Genesisteks wat die verhaal vertel van die eerste mense wat geswig het voor die versoeking wat aan hulle gestel is. Die psalm is ‘n belydenis van skuld en ‘n dankbare aanvaarding van God se vergiffenis. In die teks in Romeine word die oortreding van die eerste mense en die gevolge daarvan gestel teenoor die gehoorsaamheid van Christus en die vryspraak wat daaruit voortvloei. (Uit: Preekstudies en Liturgiese voorstelle 2011)

Tweede Sondag in Lydenstyd Lees gerus hierdie week: Gen 12:1-4a; Ps 121; Matt 17:1-9; Rom 4:1-5, 13-17; Joh 3:117 Die fokusteks is die gedeelte in Matteus. Dit handel oor Jesus se verheerliking op die berg waar Hy weer eens, soos met sy doop, deur God aangewys is as sy geliefde Seun. Die Genesisteks handel oor die roeping van Abraham om tot seën vir al die volke op aarde te wees. Die Psalm is ‘n pelgrimslied waarin die gelowige pelgrim verseker word van God se bystand en beskerming op die reispad. Die teks uit Romeine sluit aan by die verhaal van Abraham en beskryf hom as die vader van almal wat glo soos hy geglo het. Die teks uit die Johannes evangelie vertel die verhaal van Nikodemus wat Jesus in die nag kom besoek het. Op soortgelyke wyse as in die fokusteks word Jesus beskryf as die enigste Seun van God. Wenk: Lees ‘n gedeelte ‘n paar keer deur en vra dan: Wat staan vir my uit? Dink en bid dan verder daaroor. Dit kan nog meer sinvol wees om dit saam met ander te doen!

Derde Sondag in Lydenstyd Lees gerus hierdie week: Joh 4:5-42; Eks 17:1-7; Ps 95; Romeine 5:1-11 Die fokusteks handel oor Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou oor die water wat ewige lewe gee. Die Eksodusteks vertel die verhaal van die water uit die rots by Massa/Meriba tydens die woestynreis van die Israeliete. Die insident by Massa/Meriba kom weer aan die orde in die psalm, in die geval met spesifieke verwysing na die opstandigheid van die Israeliete. Die teks uit Romeine handel oor die vyandskap tussen God en mens wat deur Jesus se versoeningsdood uit die weg geruim is.

Vierde Sondag in Lydenstyd Lees gerus hierdie week: Joh 9:1-41; 1 Sam 16:1-3; Ps 23; Efes 5:8-14 Let op na die gebruik van die beeld van die herder. In Johannes praat Jesus van Homself as die goeie herder wat na sy skape (volgelinge) omsien en selfs sy lewe vir hulle aflê. In die psalm is dit God wat as die herder beskryf word wat sy kudde liefdevol versorg en beskerm.
Vyfde Sondag in Lydenstyd Lees gerus hierdie week: Joh 11:1-45; Eseg 37:1-14; Ps 130; Rom 8:6-11 In die fokusteks wat handel oor die opwekking van Lasarus uit die dood, verwys Jesus na Homself as die opstanding en die lewe. Ook die Esegiëlteks handel oor lewe uit die dood aan die hand van die visioen van beendere wat tot lewe gewek word.

Die psalm is die lied van gelowiges wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds hulle vertroue op die Here stel. Die teks uit Romeine fokus op die verskil tussen ’n lewe wat deur die sondige natuur beheers word, en ’n lewe wat deur die Gees van God beheers word. Ook in dié gedeelte is daar sprake van die sterflike liggaam wat lewend gemaak word deur die werking van die Gees. Sesde Sondag in Lydenstyd Lees gerus hierdie week: Ps 31:9-16: Ps 118:1-2; 19-29; Matt 21:1-11; Jes 50:4-9a; Fil 2:5-11; Matt 26:14-27: 66

m

You cannot copy content of this page